By St. Andrew’s Primer  is die holistiese ontwikkeling van elke leerder baie belangrik. Ons besef dat elke kind uniek is en daarom unieke talente en uitdaging het.

By St Andrew’ Primer is die holistiese ontwikkeling van elke leerder baie belangrik. Ons besef dat elke kind uniek is en daarom unieke talente en ook struikelblokke het. U as ouer kan verseker wees van vroeë identifikasie en gereelde kommunikasie tussen u en die skool in ‘n hoogs vertroulike en professionele omgewing. Dit is ons doel om te verseker dat elke leerder tot sy volle potensiaal ontwikkel.

Indien ‘n leerder deur die klasonderwyser geïdentifiseer word as ‘n leerder met ‘n leer-, gedrags- of emosionele hindernis, word daar in gesprek getree met die leerondersteuner en ook ‘n vergadering met die ouers belê. Hierna word ‘n aksieplan saamgestel om almal se samewerking en rolle te koördineer, sodat die leerder die beste moontlike ondersteuning en geleentheid kan ontvang om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel.

Intervensie begin eers in die klas met die onderwyser en daarna, indien ons sien die leerder vorder steeds nie na wense nie, sal aanbevelings gemaak word oor die volgende vlak van ondersteuning. Hierdie intervensie mag didaktiese hulp of studiehulpklasse insluit. Teen die tyd wat ‘n leerder dus verwys word vir terapie, is daar reeds alles moontlik in die klas gedoen om die leerder skolasties te ondersteun.

n Leerondersteuningskoördineerder, koördineer alle fasette van ondersteuning ten opsigte van emosionele-, gedrags- en skolastiese probleme. Vir elke leeder met spesiale onderwysbehoeftes word ‘n ondersteuningsplan vir sy/haar unieke behoeftes opgestel. Die koördineerder is ook betrokke by die proses en die monitering van die leerder se vordering.

Leerders se vordering word op ‘n gereelde basis gemoniteer deur die Leerondersteuningskoördineerder en die skoolgebaseerde ondersteuningspan (SGOS: Skoolhoof, Akademiese Hoof, Grondslagfase Hoof, Onderwyser, Ouers en terapeute betrokke by die leerder). Bogenoemde is ook `n aksie wat op aanbeveling van die WKOD plaasvind. Die hoofdoel is dus dat leerders wat ondersteuning ontvang so funksioneel as moontlik word en weer terugbeweeg na die klaskamer. Vordering is vir ons prioriteit.

Ouerleiding

Dit kan oorweldigend wees indien jou kind geïdentifiseer word met ‘n struikelblok in enige area. Ouerleiding behels spanwerk tussen ouers, die leerondersteuningskoördineerder en klasonderwyser om die beste ondersteuningsplan vir jou kind saam te stel.

Kontak gerus ons leerondersteuningskoördineerder by die skool indien jy wil gesels oor jou kind en nie weet watter roete om te volg nie.

Die Span

Om die beste vir ons leerders te bied, glo ons aan spanwerk. Die span bestaan uit:

  • Die ouers
  • Die klasonderwyser
  • Die leerondersteuningskoördineerder
  • Die skoolgebaseerde ondersteuningspan (SGOS)
  • Die terapeute
  • Ander spesialiste